Vet brêkfis in Grabouw

Vet brêkfis in Grabouw

Nou een Sa’ragoggend het ek en ʼn paar vriende op die N2 geklim om ontbyt in Grabouw te vang.  

 

So toe die winterson teen 08h30 nou eindelik sy gesig begin wys was ons al deur die mis wat vanaf die Hottentotsberge se kant af oor die N2 spoel. Maar dit was ʼn koue oggend daardie; genugtig ek het lanklaas so koud en bibberig gevoel.

 

So toe ons by Perigrine in Grabouw stilhou, was die hoofdoel om net koffie te kry. ʼn Warm brousel, met warm melk, net sodat ons onsself innerlik kan versterk. Dié padstal kan baie besig raak en vanoggend is nie veel anders nie. Ons groepie van vier het ʼn keuse: óf deel ʼn groterige tafel met ʼn ouerige paartjie, óf sit buite en word deur die ysige wind gesny. Gesny: soos ʼn papercut, maar deur die wind.

 

Ons het die tafel gekies!

 

Water my tand

 

Dit was nie lank nie en die kelner was daar om ons te bedien. Gawe mannetjie met sy breë glimlag en hoë Ingels. Ek raak mos sommer senuagtig wanneer ek soos ʼn koninglike begroet word. Nietemin, ek sit my bestelling vir koffie in en ook vir ʼn boereontbyt. Nee kyk, mens kan nie jou Saterdag sonder spek en eiers begin nie. Dis sonde. Die voorvaders sal in hul grafte omdraai! En boonop: ons moet ons boere ondersteun.

 

Agter my brand een van daai groot verhitters; die’s wat soos ʼn lamp lyk. Dit stook omtrent hier agter teen my rug en dit maak dat ek van die snerpende koue daar buite vergeet. Ag vadertjie tog, dis lekker! My groot vriend, die kelner, kom met daardie breë glimlag aangestap en skuif my beker voor my in. “Aah, thank you,” kap ek ʼn stukkie fêncy Engels en vryf my hande teen mekaar. Nou gaan ons drink!

 

“Pleasure, sir,” seg die mannetjie wat hoë Ingels praat. “I’ll bring your breakfast shortly.”

 

En hier wonder ek by myself, so uit die bloute: is daar een of ander kelner kollege waar mens gaan spesiale Engels leer, of is dit ʼn ingeboude funksie wat jy mee gebore word? Ag, dit skeel my min. Hierdie mannetjie is ordentlik, dis al wat saak maak. Na etlike minute daag hy op; arms gepak met vier borde plaasonbyt. Bord per man. Jis, maar dit lyk lekker! Eiers, hard soos ek dit verkies, spek, ʼn boereworsie, sampioene, ʼn bakkie baba tamaties, en ʼn aartappel koekie. Ek loer so oor die bord en sê vir myself: “Myself, vanmôre gaan jy hemel toe!”

 

Ontbyt klaar en dis tyd om weer die pad te vat, maar daar is nie tyd vir ‘magies vol, ogies toe’ nie, nee. Ons druk nou verder teen die N2 op, maar ten minste is die belangrikste maaltyd nou agter die rug. ʼn Baie warm rug.

COMMENTS