Twee mooi meisies… en ʼn kerk

Twee mooi meisies… en ʼn kerk

Ek maak dit nie eens op nie, maar hierdie skoonheidkompetisies weet ek mos regtig nie veel van nie. Jinne, ek voel nie eers sleg as ek “iets gemis” het nie. So ek het nie uit plek uit gevoel toe twee van hierdie skoonhede op my toesak nie. Maar kom ons begin voor.

 

Nissan Suid-Afrika het nou bietjie dag hul splinternuwe Micra kom bekendstel en het toe sommer die kans gevat om regtig all-out te gaan. Eers begin ons die loodsing by Kaapstad Internasionaal, waarna ons via die N2 en R43 ry tot by Villiersdorp en dan Worcester sal ry. Die bestemming vir ons middagete is Bosjes, ʼn wynplaas duskant Worcester rigting Ceres. Maar dis nie net die ligging wat van Bosjes so ʼn bekendheid maak nie, daar is nog iets…

 

‘Vrede vir julle’

 

Dit was sopnat tydens die bekendstelling en die wind het omtrent met die klein Micra gemors. Selfs groter voertuie wat ook op die pad was het hulself sommer baie gou in die aankomende baan gevind. Gelukkig toe ons by Bosjes kom en met die modderige plaaspad tot by die restaurant ry, kon ons onsself in die hitte en droogheid van die restaurant kalm hou.

 

Bosjes het veral bekendheid verwerf vir die kerk wat op die plaas is, so uiteraard is dit geskik vir troues. Hierdie kerk lyk soos iets uit ʼn argitek tydskrif. Die kerk se wit dak buig en vou en is dit treffend teen die die berge en oop hemelruim wat agter dit pronk. Glas omring die gaste in die kerk en is daar ʼn paar houtpale wat die konstruksie byeen hou. En as ek dit nie mis het nie, kan die kerkie omtrent so 100 siele tot bekering bring.

 

Ooh, maar die mooiste van dit alles is dat mens oor so ʼn bruggie ding stap wat met water omring is. Yoh, dis treffend!

Sjoe, julle is warm!

 

Ek moet seker een van die gelukkigste manne in die wêreld wees, want Lauren, my eie meisie, is nie die jaloerse tipe nie. Plus, sy het ʼn gees van onderskeiding om te kan sien en besef wanneer om nie bekommerd te wees nie. En op die Micra se bekendstelling, terug in die stad, was dit weer so ʼn geval dat daar ʼn mooi meisie of twee ons met hul teenwoordigheid kom vergas het. Wie was hulle? Wel, die een ken ek glad nie, maar die ander een was Tamaryn Green: 2018 Mej. Suid-Afrika!

 

Die ding is, ek ken nie die mense nie. Ek weet niks van hulle nie. As my goeie vriend, Johann van Tonder, my nie ʼn vinnige lewensles gegee het nie, kon hierdie meisies met die identifikasie om hul skouers maar verby my geloop het en ek sou nie boo of baa gesê het nie.

 

LEES: Ougat Micra maak sy opwagting

 

Nou, alhoewel ek nie met die kalender en deelnemers van skoonheidskompetisies bekend is nie, sou dit ook nie reg wees as ek nie die geleentheid om ʼn foto met hierdie meisies te neem laat glip nie. Genugtig, dis duidelik dat alle mans in die vertrek dieselfde intensie het! Ek en Johann staan en wag ons beurt af, net om te sien hoe ander hier voor ons indruk. Nee, nie vandag nie, julle testosteroon-gevulde indrukkers!

 

Ek en Johann vat ons kans en staan vir ʼn foto (of ses) met hierdie twee skoonhede. Ons ken hulle nie, maar ons was lekker hand om die blaas met mekaar. En na die foto’s klaar geneem is is die vriendskap ook daarmee heen en maak die twee hul glimlagte reg vir kiekies met ander ouens.

 

En dis toe dat die skok ons tref. Ek en Johann was ʼn oomblik se plesier vir hulle. Ons het hulle laat lag en giggel met ons grappies wat, as ons self so moet sê, glad nie droog is nie. Dis asof hierdie twee meisies ons net gebruik het om vir ʼn oomblik met lekker geboude ouens sy-aan-sy te staan. Gelukkig was ons nie by Bosjes voor die kateder nie!

COMMENTS