spice route, afrikaanse paartjie,toer,reis,eet,kos

Tjoklits, grasperke, en ʼn houtkop

Ons het lank laas soveel pret soos vandag gehad, maar té veel van ʼn goeie ding kan jou soet maak. Baie soet. Dalk té soet. Dis wat gebeur het na ons besoek aan die Spice Route neffens Paarl afgelê het. Nee kyk, dis nou vir jou ʼn plaas met goeie karakter! Hier is iets te doen vir elke siel wat leef en beef en die hele gesin kan hulself vir ure vermaak. En alhoewel ons tweetjies nou nie ʼn kroos van ons eie het nie, het ons die kans aangegryp om die baie tyd wat ons met mekaar as paartjie het, goed te benut.

 

Skuins na 11vm parkeer ons die babablou Audi RS3 in een van die geallokeerde parkeerareas en baan ons weg na die Spice Route se ingang. Mense het al soveel goed oor hierdie plek gesê en op sosiale media geplaas, dat ons nogal nuuskierig is om te sien wat dit alles te bied het. Na ʼn vinnige gooi van die oog oor wat ons alles kan doen (en waar…), is ons by die sjokolade winkel in. Maar o weë, hier het een van ons amper kouekoors opgedoen!

 

Dis te veel!

 

Die sjokolade fabriek is presies net dit: ʼn fabriek propvol sjokolade. Tjoklits! Vaderland, die verskillende geure en smake en tipes kan enige mens ʼn hoofpyn gee, maar die persoon wie se DNA ten gunste van dit opgestel is sal die beste van die oomblik maak. En dis hier waar ons byna-byna in trane was, maar elkeen vir ʼn ander rede.

 

Lauren, op haar beurt, is die soettand in die verhouding. Sy is mal oor ʼn stukkie malva pudding met baie vlae, terwyl Charlen net die vlae sal eet. Hy sal een skeppie malva by Lauren neem, maar sy weet sy kan hom nie eens probeer vermaak nie. Hy is taaier as ʼn ratel wanneer dit by mond oopmaak en soetgoed kom. Maar vandag, hier, omring deur al die dekadente stukkies tjoklits, is Lauren in haar element. Sy neem elke blokkie sjokolade, sit dit in haar mond en laat dan toe dat die geure oor haar palette spoel. Dis amper soos een van daai slow motion videos en sy laat die oomblik vir so lank as moontlik hou.

 

En met elke happie wat sy neem por sy vir Charlen aan om ook te neem. Nou kyk, Charlen is nie een vir soetgoed nie – soos julle nou al seker agtergekom het – maar hy het maar geneem en geproe en gekou en gesluk. Met elke stukkie tjoklit lyk dit hy kry rillings deur sy lyf, soos wanneer die juffrou of meneer op die bord skryf en die kryt maak daai ellendige skreeu geluid en jou liggaam dan sidder van die rillings. Nou dis wat Charlen ervaar het. Maar hy glimlag en kou en sê “Dis lekker, Liefie,” want trap hy nou verkeerd kry hy nie later sy ek-is-trots-op-jou soentjie nie.

 

Aan die einde van die sessie, nadat een van hulle hul versmul het aan die wye seleksie sjokolade, loer Lauren vir Charlen en sien hoe hy LETTERLIK sweet van sy voorkop afvee. Duidelik was dit ʼn groot grap om te sien hoe hy staan en benoud raak, maar dit was ook die naaste wat een van hulle aan vlak 2 diabetes gekom het.

Asemrowende uitsig

 

Buiten die sjokolade bied die Spice Route heelwat besienswaardighede, maar die grootste hiervan moet sekerlik die uitsig oor die Boland, rigting Stellenbosch en Franschhoek, wees. Vanaf die grasperke kan mens in jou eie gedagtes verdwaal wanneer jy oor die vlaktes staar, en moet dit seker een van hierdie plaas se beste eienskappe wees. Maar amper versteek op een van die plaas se grasperke is ʼn massiewe standbeeld wat uit hout gesaag is. Dis reg, met ʼn elektriese saag uit hout gesaag. Dit lyk maar rof en bykans onafgerond, maar gegewe waarmee dit gesaag was, is dit ʼn meesterstuk.

 

Ons het nou nie alles besoek nie en is daar ook ʼn plekkie waar biltong geproe en gekoop kan word, asook ʼn brouery waar craft biere geproduseer word. Dis op die te-doen lysie die volgende keer dat ons weer die Spice Route besoek. En besoek sal ons weer, want ons het nog nie eens die bodem van hierdie plek geskraap nie.

Charlen & Lauren op hul beste. Die een bly in Dubai en die ander hier in sonnige Suid-Afrika. Twee dinge wat hulle in gemeen het: albei is Afrikaans en albei reis vir werk! En so tussendeur alles maak hulle darem tyd om vir mekaar "ek is lief vir jou" te sê.