Tennis en liefde: die kishou

Tennis en liefde: die kishou

Wimbledon het mos nou gekom en gegaan, maar in die gees van sport en kompetisies het ek en Natheemah ʼn gesprek gehad om te bevestig wie die beste tennisspeler tussen ons is.

 

Natuurlik glo ek vas dat ek, met my goeie sportgees en briljante tennisvaardighede, selfs vir Novak Djokovic sal laat staan en bewe. Natheemah, aan die ander kant, glo dat sy my in tennis kan wen. HAHAHA!! Lekker lag ek nou!

 

Wel, daar was nou net een manier om te kyk wie die beste tennis speler is en net daar het ons ons eie tennis toernooi gehad!

 

Wat de…?!

 

Ons kry toe ons uitrustings, tennisrakkette en tennisballe. Dit was ʼn sonnige dag toe ek en Natheemah by die tennisbaan aankom. Ek het die wedstryd begin met ʼn smooth surf en slaan die tennisbal oor na haar toe. Natheemah hardloop met die rakket in haar hand en sy slaan daardie tennisbal met so ʼn goeie hou. En mens, daardie bal vlieg met so ʼn vinnige spoed oor na my toe dat ek heel geskok was. Ek probeer die bal slaan, maar toe ek daai hou speel… besef ek dat die tennisbal al lankal in my baan gehop en verby my beweeg het.

 

Ek staan daar en alles voel soos dit in ʼn stadige aksie beweeg. Ek kyk vir Natheemah en sy kyk terug na my toe met so ʼn groot glimlag op haar pragtige gesig. Dit was op daardie oomblik dat ek besef hierdie wedstryd gaan nie so maklik wees soos ek gedink het nie.. Ek skud my toe reg en neem weer my posisie in.

 

ʼn Paar minute later vee ek my sweet af en vat ʼn blaaskans. Natheemah het die eerste rondte gewen. Ja… ja… onthou “ladies first”. afrikaanse paartjie,darroll harmse,natheemah jenkins,tennis,kaapstad, cape town

Natheemah wys vir Darroll hoe dit gedoen word. Foto: Darroll & Natheemah

 

Wie is die beste?

 

Ons begin toe die tweede rondte. Ons hardloop op en af, spring rond, slaan hier en slaan daar. Terwyl die aarde beweeg en die sonlig deur die wolke skyn, begin my bene pyn en sukkel ek om asem te haal, maar ek vat my rakket en duik met my arms en hande uitgestrek om daardie geel balletjie raak te slaan. Ek voel hoe ek die tennisbal slaan en dit gaan oor na Natheemah toe, sy hardloop om die bal te slaan, maar dit was te laat. Ek spring toe op en skree hard “YEEEAAAAH!”. Ek het die tweede rondte gewen!

 

Natheemah het daar gestaan en lag vir hoe ek geskree en aangegaan het. Tussen my en julle gesê, kom ons sê net dat my gedrag nie juis professioneel was nie. Voor ons die derde rondte begin, het Natheemah vir my gese dat sy baie lief is vir my en dat sy hierdie toernooi baie geniet. Dit was op daardie oomblik dat ek besef dat wie gee om oor wie die beste tennisspeler tussen ons is. Dis beter om net die dag en die klein toernooitjie met my Liefie te geniet.

 

Ons twee het toe lekker verder gespeel en die rondte klaar gemaak. Ek en Natheemah het daardie potjie tennis so geniet dat ons nie eers weet wie die laaste rondte gewen het nie. As jy nou vir Natheemah vra, sal sy seker sê dit was sy. Ek is baie lief vir haar en ek sal sê dalk, net dalk, hét sy die toernooi gewen. Maar een ding is verseker: ons het dit albei geniet om agter daai bal aan te hardloop.

 

Geskryf deur: Darroll Harmse

afrikaanse paartjie,darroll harmse,natheemah jenkins,tennis,kaapstad, cape town

Darroll kry ‘n tweede asem om die spel klaar te maak. Foto: Darroll & Natheemah

COMMENTS