Ooste toe: ‘Hello, my China!’

Ooste toe: ‘Hello, my China!’

China is ʼn mooi land – bitter mooi – maar dit het een groot, massiewe kinkel in die kabel. En dit het niks met kultuur te doen nie… Wag, voor ek die wa voor die perde span. Ek was gelukkig om nie te lank terug nie China te besoek. Dit was wel vir werk, maar die sewe daar het darem toegelaat dat mens die land en al sy dinge kon ervaar. In die week dat ek daar was het ek vier stede besoek, elkeen vir ʼn ander doel, en dit was ʼn besonderse ervaring.

 

Ek sal teruggaan China toe, ek wil teruggaan, maar dan wil ek liewer in die platteland wees. In die berge. Weg van die lugbesoedeling wat jou soos ʼn krieketkolf in die gesig slaan.

 

Die stadslewe

 

Die eerste stad wat ek besoek het was Hong Kong. Okei, tegnies het ek nie die stad besoek nie, maar net die lughawe. Het julle geweet dat Hong Kong, alhoewel deel van China, het weggebreek van die land? Hier het die mense hul eie geldeenheid, jy kan Google, Facebook, Instagram, en Twitter gebruik, waar in die land self kan jy nie. In die main land, soos na dit verwys word, is daar ʼn blok op alles.

 

Maar terwyl ek die vliegtuig verlaat sien ek twee mense wie ek ken. Die een meisie was ek saam op skool mee, en die vrou is in my kerk. Jis, dit was lekker om hulle te sien! En het ons nou vir jou Afrikaans gepraat op daai lughawe! Skaamteloos! Sjoe, ek het darem trots gevoel. Die meisie en haar verloofde was op pad Thailand toe (dink ek), terwyl die vrou onderweg na Australië was vir ʼn sportsbyeenkoms. Klaar gegroet en ek klim die volgende vliegtuig na Sjanghai.

 

In Sjanghai was ek net vir ʼn aand of twee, maar my rede vir besoek aan China, en gevolglik Sjanghai, was omtrent spesiaal: die Sjanghai Motorskou. My werk draai om motors en om die nuutste modelle wat op pad is te sien was ongelooflik. Groot karre, klein karre, kleurvolle ontwerpe, mooi meisies wat betaal word om mooi te lyk langs die mooi motors, ens. Dis ʼn vinnige pas, hierdie geleentheid, en die dag wat aan ons media verteenwoordigers afgestaan was het net só omgegaan. Maar ek kon darem binne reikafstand van Lewis Hamilton se 2016 F1 motor kom!

charlen, lewis hamilton,f1

Charlen by Lewis Hamilton se F1 motor.

Die volgende stad was Baoding, maar hier het ek net besoek aan ʼn fabriek waar hulle motors bou, kom aflê. Op dié spesifieke aand het ek en die ander saam met ons gashere aan tafel gesit. Die drank het by die bokse gekom en omdat ek van Suid-Afrika afkomstig is, het die Chinese geglo dat ek kan drink. Ek het maar saamgespeel, maar die tafel op hulle gedraai en kort voor lank was hul ogies styf toe en die wange bloedrooi! Ons het baie pret gehad, maar toe sal een mos nie sê dat dit nou tyd is vir sy gunsteling drankie nie. Wat is dit, vra ek ook heel nuuskierig.

 

Lees ook: Gevind! Die geluk van die Iere

 

“It’s a white rightning,” seg die grootbaas. Ek vra nie nog veel nie en proe die jongman (ja, die grootbaas is in sy vroeë dertigs!) se gunsteling drankie. Glad nie sleg, dink ek by myself, en vat nog ʼn shot glasie of vier. Of was dit ses? Ag, ek kan nie meer onthou nie, maar dit was lekker! Terug in SA en ek vertel die storie van “white rightning, net om te hoor dat dit witblits was! Ai, my ingeboude vertaler was seker stukkend daai aand.

 

Die laaste stad op my besoek was Beijing. Ek en die groepie mense met wie ek beweeg het wou die Groot Muur van China besoek, maar ons tyd was lelik beperk. Nou maar wat dan van die Forbidden City? Ja dis reg, laat ons gaan! Bliksem, die rye rye mense is etlike honderde meters lank. Nee wat, los maar. Ons het maar van die baie doeltreffende ondergrondse treindienste gebruik gemaak en die Beijing Pearl Market gaan besoek vir ʼn geskenkie of twee. Hier is letterlik alles en kon almal kry wat hulle nie na gesoek het nie.

 

Die groot klad

 

China is mooi, moenie ʼn fout maak nie. Maar daar is twee goed omtrent die land wat my soos ʼn taai klap getref het. Die een is die lugbesoedeling. In al vier die bogenoemde stede was dit tasbaar en het mens taai gevoel elke keer dat jy jouself buite bevind. Dis asof die besoedelde lug jou verwurg. Snags raak dit ʼn kleine bietjie beter, maar deur die dag is jy te bang om asem te haal.

 

Iets wat ek haat is wanneer mense nie hul neuse blaas nie en besluit om eerder terug te trek. Goeie &@%$, dis morsig! Nou hier in China, om elke hoek en draai, is daar iemand wat nie net terug trek nie, maar dit sommer net daar op straat uitspoeg. Of hy/sy nou in ʼn stegie is, voor ʼn gebou, in ʼn kar, op ʼn poegie… as die neus bedruk voel, word die vryheid van asemhaal net daar toegeken. Maak nie saak wie om hulle is nie, wie waar loop nie: daar sal gespoeg word. Dis die kultuur. Dis die manier van doen. Dis deel van China se identiteit.

 

Die Here hoor my, maar ek wil hierdie gespoeg nie weer ervaar nie. As die geleentheid homself opdoen dat ek die land weer moet besoek, sal ek in die weke en dae vóór my vlug myself aan vitamiene en immuun opkikkers ophang. En as julle nog nie afgelei het nie, ek was siek toe ek weer in SA land. En nie net ʼn bietjie nie, sommer baie. Maar ten minste weet ek hoe om ʼn sneesdoekie te gebruik.

china

China Town. ʼn Regte China Town.

COMMENTS