Ford,mustang,afrikaanse paartjie,road trip

Oop knaters in Lesotho!

Mens sal dit nie sommer sê nie, maar om Lesotho te perd te besoek is een van die beste ervaringe wat jy kan hê. En nog beter as daai perd die Ford Mustang is. Toe Ford laat weet dat hulle ʼn road trip met ʼn paar Mustangs Lesotho toe beplan, het ek nie twee keer gedink om ja te sê nie. Ek meen, dis die Ford Mustang. En dis Lesotho! Die Mustang roer my siel om verskeie redes, en Lesotho is ʼn land – eintlik ʼn koningryk – wat deur Suid-Afrika omring is. Dis ʼn baie klein land wat tussen die Vrystaat en Kwazulu-Natal lê, maar die ervaring van die land se kondisie laat ʼn blywende indruk.

 

Hardloop, perdjie!

 

Ons het vroeg die oggend in Johannesburg byeen gekom en na ontbyt is die groep na waar die perde wag. Okay, die Mustangs – dis darem nou nie regte perde nie. Na die koordineerder ons ingelig het rakende wat gaan vir wat, val ons in die pad. Eers was die 5.0-liter V8 Mustang aan die beurt, maar die toe-dak een. Jis, maar hy loop lekker!

 

Die pad maak oop en druk ons met gemak tot in die Vrystaat. Ons eerste stop is in Roosendal en daar besoek ons ʼn paar attraksies. Jisou, maar hierdie plek is klein! As jy nie weet nie sal jy dit geheel en al mis! Maar die plek het hart, karakter. Hier is ʼn vrou wat haar eie seep maak, ʼn man en vrou-span wat glas blaas, ʼn koffie winkel, en dan is Chris van Niekerk, die man wat Francois Rossouw in 7de Laan gespeel het, ook hier! Chris het sy eie restaurant, genaamd Chris se Winkel, met so ʼn lekker eksentrieke persoonlikheid én daar is ʼn klein teater ook! Chris sê dat hulle nie elke aand vertonings het nie, maar wanneer daar ʼn show is dan is die plek stampvol. Ek sal nogal nie omgee om hier te kom kuier nie. Ek is mal oor teater!

 

Van hier ry ons verder tot by die plaas Moolmanshoek waar ons vir die aand sal rus. Die gevoel, alhoewel plaas, is baie huislik en het ons die aand met lekker boerekos afgesluit. Die volgende oggend, voor ontbyt, het ons gashere ons op ʼn perdrit geneem om die plaas se wild te besigtig.

Hello, Lesotho

 

Danksy ons papierwerk wat mooi inplek was, het ons lekker gou deur doane gegaan en binnekort was ons in Lesotho. En dan slaan die realiteit: Lesotho is ʼn baie arm land. Wow, dis amper iets wat mens nie kan glo nie. Dis baie groen – mooi groen – maar die mense leef onder, of op, die broodlyn. Hul huise staan etlike meters van die teerpad af en die vee wei sommer hier waar jy moet ry. Kinders loop langs die pad, hul skole ʼn klipgooi van die huise af, en dit lyk net na swaarkry. Dis skokkend, maar die mense gaan voort met hul lewens.

 

Agter die stuur van die afdak V8 Mustang het almal vir ons gewaai, en ons waai terug. Hulle is opgewonde om ons te sien, vir die konvooi karre wat deur hul dorpies ry. Dis ook al laat middag, maar ons moet druk om by AfriSki uit te kom.

 

Die paaie is ook nie van die bestes nie en is daar slaggate net waar jy kyk. Mens moet so mooi ry en seker maak dat jy nie die ʼn gat tref nie, want dit kan ernstige skade aan die bande rig. Geleidelik kan jy voel hoe jy hoër en hoër ry, die berge klim en die lug al hoe kouer word. Ek en die ander bestuurder wat ʼn motor deel kon seker die dak opgesit het, maar dis nie aldag dat jy deur Lesotho in ʼn afdak Ford Mustang ry nie. So ons het maar eerder ons baadjies aangetrek. Ons klim en klim en later is ons meer as 3.2km bo seevlak! Nou is dit koud en die lugdruk baie dun. Die kondisie van die paaie verbeter ook en kon ons die Mustang se bene lekker rek. Afdak en al!

 

Die konvooi stop vir die laaste keer voor ons by AfriSki ingaan en skielik is ons deur Basotho mans omring. Hulle het iewers uit die berge gekom en wou net kom sien wat ons hier maak. O ja, hul kleredrag? Warm bo, en onderbroeke onder. Kaal bene in temperature wat skaars 1°C is! By AfriSki gekom is ons kamers toe en toe reguit in die stort in. Daar was nie ʼn ander keuse as om warm aan te trek nie. Dis koud daar bo in die berge!

 

Lesotho moet weer besoek word en dan sal ek vir daai manne almal broeke bring!

Ford,mustang,afrikaanse paartjie,road trip
Foto: Charlen Raymond

Charlen is 'n motorjoernalis en bevind hom elke week agter die stuur van 'n ander motor. Nes Lauren reis hy ook baie, maar sy avonture neem hom regoor Suid-Afrika eerder as die wêreld. Gelukkig gebeur dit soms dat Lauren hierdie fêncy rygoed saam met hom kan ervaar.