Afrikaanse Paartjie,trots afrikaans,afrikaans is groot,liefde is afrikaans,mercedes-amg,jaguar,f-type,amg,amg gt c,amg gt, gt,mercedes-benz,

Onthou jy daai keer, my Lief…

Dis nie aldag dat jy die kans kry om twee blitsige karre op een slag te ry nie, maar wanneer die kans jou te beurt val moet jy skep terwyl die pap warm is. Ons is nogal geseënd as ʼn paartjie om te kan doen wat ons doen; in ons onderskeie werke. Lauren sien die wêreld, terwyl Charlen nuwe motors kan toetsbestuur en daaroor berig. Tog is dit die beste van kere wannneer ons in mekaar se loopbaan kan deel.

 

Vat nou maar soos vroeër die jaar toe Charlen twee prag stukke op toets gehad het. Die Jaguar F-Type en die Mercedes-AMG GT C. Lauren het in daai tyd Kaap toe gekom en was die twee van hulle weer onafskeidbaar. En wat daardie kuier soos lekker gemaak het, apart van die feit dat dit Lauren se verjaarsdag was, was dat hulle hierdie twee motors in al hul glorie kon ervaar.

 

Die Kat

 

Die Jaguar F-Type was nou vir jou iets anders. Dis nie die vinnigste F-Type nie en dis ook nie die kragtigste nie, maar dis darem nou vir jou ʼn sportskar wat alles net reg doen. Sonder moeite. Ons het oral gery waar ons kon met die kar, plekkies besoek, en die kar tot sy reg laat kom. Deel van wat die kar vir ons so lekker gemaak het was dat dit eintlik goed gedoen het as ʼn kar waarmee mens elke dag kon ry. En vir ʼn sportskar om só te kan wees beteken dat daar iets reg gedoen was.

 

Toe ons wil stadig ry en net gemaklik deur die verkeer beweeg, het die Jaguar dit gedoen. En toe ons in die heuwels gaan speel en die kar ʼn bietjie deur die draaie gooi kon ons dit ook doen. Mens sal nou seker nie die F-Type as ʼn familiekar aanskaf nie, maar wanneer dit net julle twee is – of net ons twee, in ons geval – dan is dit nie so ʼn slegte idee nie. Hou maar net ingedagte dat daar nie ʼn kattebak is wat werklik bruikbaar is nie. Ons sê maar net.

 

LEES: ʼn Katjie vir my verjaarsdag

 

Jaguars het maar nog altyd ʼn spesiale plekkie in ons albei se harte gehad, veral die F-Pace V6 diesel, en nou kan ons sê dat die F-Type ook in daardie geselskap is. Dis nou wel die kleinste F-Type wat daar is – die kar het ʼn 2.0-liter enjin – maar dit het beslis ʼn groot impak op ons verhouding kom maak. Ons dink ook nie ons sal stry wanneer een van die F-Types weer kom kuier nie.

 

Dagsê, ou Bul

 

Julle, as daar nou ooit ʼn kar was wat jou hormone op hol kon jaag dan is dit hierdie meneer. Die Mercedes-AMG GT C. Die F-Type is lekker, maar hierdie kar is bedonnerd. Dis groot, imponerend, in-jou-gesig, en trek oor die pad soos ʼn vuurpyl wat lanseer word. Toe ons die kar vir die eerste keer aanskakel, was die gegiggel amper net so hard soos die uitlaatpype wat soos klappers op 5 November skiet. Ons was so opgewonde dat ons amper vergeet het om vir mekaar “ek is lief vir jou” te sê. Want al wat saak maak is hierdie kar wat sy bene op die N1 wil strek.

 

Kyk, dis ʼn klomp krag om te hanteer en mens moet dit met respek hanteer. Lauren weet ook dat wanneer Charlen sulke kragtige motors bestuur, sy hom nie sommer moet pla nie. Mens moet fokus, want daar is oor die 400kW wat na die agterwiele gestuur word. En daai krag moet opgepas word; maak nie saak hóé gesofistikeerd die moderne tegnologie is nie.

 

Maar ons laat sak die dak en skakel die musiek aan. Wat gaan ons doen? Sing, natuurlik! Ons skarrel lekker teen 120km/h, dak af, musiek aan, en sonbrille op ons neusies. En sing sal ons sing! Ken Charlen al die woorde? Ga! Jy sal jou wat verbeel dat hy dit ken, maar Lauren sing karoake asof daar ʼn prys op die spel is. Al het die wind gewaai, wat die video hieronder nie wys nie is hoe ons ʼn doodgewone gesprek kon hê, teen daardie spoed, en ons hoef nie eens te raas om mekaar te kan hoor nie.

 

As julle wil sien hoe ons sing, check hier…

Charlen & Lauren op hul beste. Die een bly in Dubai en die ander hier in sonnige Suid-Afrika. Twee dinge wat hulle in gemeen het: albei is Afrikaans en albei reis vir werk! En so tussendeur alles maak hulle darem tyd om vir mekaar "ek is lief vir jou" te sê.