Olifante vry nogal nie lekker nie…

Olifante vry nogal nie lekker nie…

So ʼn maand of wat terug bevind ek myself by die nasionale launch van die nuwe Mitsubishi Triton. Heerlikheid, maar dis ʼn mooi bakkie! Maar wat nog mooier was was dat ons onsself aan die regte kant van Lanseria Internasionaal bevind het. Dis mooi hier. Droog en dor by kolle, maar mooi.

Dis die Magaliesburg area waarin ons is, daar anderkant Hartebeespoort verby Hekpoort. Die mense van Mitsubishi het ons omtrent laat ry, maar kla was min want die roete was lekker en die bakkie nog lekkerder. As ek so terug dink aan daai launch dan het ons eintlik nie so ver en so baie gery nie, maar die roete was goed uiteengesit en was dit die aktiwiteite wat ons meestal besig gehou het.

En die beste van hierdie aktiwiteite (behalwe om die bakkie se vermoëns op ʼn lekker 4×4 roete te toets)? Toe ons met twee olifant bulle kennis maak.

13 ton se vriendelikheid?

Ná middagete by Askari Game Lodge & Spa spring ons in die bakkies en reg om terug lughawe toe te gaan, maar ons word oor die radio’s gesê om die voorste bakkie te volg en af te draai nie. Wat nou?! Ek dog ons gaan lughawe toe. Duidelik nie, want sommer nog by Askari, na skaars ʼn kilometer se ry, draai ons af en ry al aan met donga-gevulde pad.

Maar jy ry maar en wanneer jy ʼn poel modder sien dan maak jy eers die bakkie se wit bakwerk ʼn bietjie bruin. Ons ry nie vinnig nie en ploeter aan teen ʼn stadige spoed. Met die stop en uitklim word ons gemaan om stil te wees en nie enige vinnige bewegings te maak nie. Hoekom nie? Want daar anderkant, op die heuwel, wag twee olifante en hulle is reg om ons te groet.

Ons beweeg te voet nader en ons oë bly gevestig op die twee bulle wat daar staan. Hulle het vir ons hul name gesê, maar die vet weet jy onthou dit nie op daai oomblik nie. Al wat ek kan onthou is dat die een ses ton weeg en die ander een sewe ton, maar die jonger olifant – die een wat sewe ton weeg – is maar ʼn harde koejawel. Hardegat en vol draadwerk. Hy’s eintlik stout en wil net dinge op sy manier gedoen hê.

Die ander een is makliker om mee te werk en is hy meer gerus met mense om hom. Sy trainers sit met gemak op sy rug en gee bevele wat hy pligsgetrou uitvoer. Maar albei olifante weet al wat van hulle verwag word, want na elke uitvoering is daai lang neus reg om sy kos te ontvang!

Ugh, daai soen!

Ek weet nie wat my oorgekom het nie, maar toe die uitnodiging my kant toe kom om die vriendliker olifant toe te laat om my te soen, was ek nie juis skaam nie. Ek ken mos van mans soen, dis niks vreemds vir my nie. Ek soen-groet my broer, ek soen-groet my Oupa… Ga, wat is ʼn olifant dan nou.

ʼn Paar kollegas gaan voor my en elke keer lyk dit asof die olifant dit vinniger en haastiger doen. Hoekom? Want hy word met appels beloon! Dis ʼn groot dier en daagliks eet hy ten minste 10% van sy totale gewig. Kan jy jouself voorstel hoeveel appels hy sal moet vreet om daai 10% vol te maak! Dis hoekom hy so vinnig is!

Die olifant doen vier bewegings: eers eet hy ʼn appelskyf uit jou hand uit, dan maak hy sy bek oop dat jy ʼn skyfie kan gooi, die derde sit jy ʼn skyfie in jou mond en hy haal dit uit, en die vierde plant hy ʼn vet soen op jou kop. Probleem is net, daai slurp is fokken slymerig en vol sand!

Sies! Dis ʼn wonder ek het nie na die tyd die kakkerasies gekry nie! Dis so ʼn vuil gevoel oral op jou gesig en dit voel asof die sand agter teen jou verhemelte kleef! Nee hel, man! Ek het my fair share van slymerige snoete gehad, maar dis nou te laat om daai soen terug te trek.

Maar al was daai snot sjambok hóé vuil, ʼn mens kan nie ʼn prys op só ʼn evaring sit nie. Dit was uit en uit die moeite werd.

COMMENTS