Nat en modderig op ʼn scooter

Nat en modderig op ʼn scooter

Dis baie maklik om goed as ʼn paartjie te doen wat veilig is, maar soms moet mens net buite jou gemaksone beweeg en iets doen wat die adrenalien ʼn bietjie opstoot. Vergeet van hike, vergeet van in die somer in ʼn bos gaan stap met slange wat enige tyd kan uitkom. Vergeet alles en gaan ry ʼn scooter in die berge. In die reën. Nee, ernstig: gaan doen dit, want ons het…

 

Na ons van Dubai teruggekom het Suid-Afrika toe, het die vakansie-gees ons nog nie verlaat nie. Ons het soveel planne gehad, soveel idees van wat om te doen, soveel plekke wat ons wou besoek. Maar soos dit mos maar gaan met vakansies, het jy té min tyd vir alles wat op jou to-do lysie is. Ons wou so baie in ons reeds vol lysie indruk, maar een of ander tyd moet jy mos net verlief neem met die feit dat alles nie sal pas nie.

 

Gelukkig vir my het die één ding wat bo-aan my lysie is darem gerealiseer: monster roller. Ek het dit vir die eerste keer vroeër die jaar in Lesotho gedoen toe ek op daardie Ford Mustang road trip gegaan het en net daar het ek besluit dat ek MOET uitvind waar in die Kaap dit aangebied word. Dankie Google, want na ʼn paar oomblikke sit ek met die Scootours webblad oop voor my. Hier gaan ons nou!

 

Nat met ʼn glimlag

 

Ek loer op die website en alles is so eenvoudig. Jy kan kies tussen ʼn paar plekke in en om die Kaap waar jy wil gaan ry, maar ek en Lauren besluit toe op Stellenbosch. Dis nou wel ʼn paar maande ná my eerste ervaring in Lesotho, maar ek onthou dit soos gister. Vir weke berei ek vir Lauren voor op wat sy kan verwag, vertel ek haar hoe die ervaring jou bloed gaan laat kook en dat sy na afloop van dit alles vir my sal sê dat sy dit weer wil doen.

 

“Charlen, dis nie vir my nie maar ek sal dit vir jou doen. Want ek is lief vir jou,” bly sy vir my sê. Tot op die oggend dat ons die ervaring aanpak het sy dit nog gesê.

 

Toe ons instrukteurs arriveer kry ons albei valskerms en sy loer vir my met ʼn frons. Sy is nie beïndruk nie, dink ek, maar haar dinges! Vandag gaan sy leer! Wat presies sy moet leer sal ek nie weet nie, maar ons is in die 4×4 en ry die Jonkershoek natuurreservaat se berge uit. Bo gekom kry ons elkeen ons scooter, Lauren kry ʼn vinnige les oor wat om te doen en wat nie, en daar gaan ons!

 

Uiteindelik! My goeie bliksem, hier ga’t ons!

 

Dis net afdraende wat jy gaan. Die scooters het nie ʼn enjin nie, so dis net gravity wat jou dryf. Ek ry agter Lauren, en dan weer langs haar, en dan voor haar.

 

“Hoe voel dit?!” gil ek haar kant toe soos die koue my in die gesig slaan. Sy lag net en gaan by tye vinniger as wat ek dink sy behoort te gaan. Hierdie girl motor! Jiss, dis my shantie daai! Sy buk laag en jaag deur die modder; alles skiet op! Ons klere is besmet met bruin strepe en kolle soos die modder ʼn nuwe tuiste aan ons klere kom maak, maar ons is reg vir rondte twee. Wéér in die 4×4 tot by die volgende hoogte.

 

Right, daar gaan ons! Dis ʼn wonderlike ervaring om een met die elemente te wees. Al sny die koue en al is ons nat en vuil, ons geniet onsself! Ek wil dit waag om te sê dat dit die hoogtepunt van ons paar dae in die Kaap was.

 

Kort voor die einde kyk ek na Lauren. Die vreugde van hierdie ervaring deurtrek haar gesig. Ek ry stadiger, sy kom tot langs my en dan bom sy my kop met die volgende: “Ek gaan vir my ʼn action camera koop vir ons volgende scootour.”

 

Ek sweer ek het amper ʼn ongeluk gemaak, maar ten minste weet ek sy is ʼn bok vir sports!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Afrikaanse Paartjie (@afrikaanse_paartjie2) on

COMMENTS