ʼn (vinnige) Weskus vakansie

ʼn (vinnige) Weskus vakansie

Mykonos, Santorini… Die Griekse Eilande is vir menige mens ʼn droom vakansiebestemming, maar ongelukkig pas dit nie almal se sak om oorsee te kán gaan nie. Veral nie ʼn plek soos Griekeland nie. Dit verg geld spaar en nog spaar en nogmaals spaar.

 

Gelukkig het ons (Suid-Afrikaners) die Weskus. En ons het vir Langebaan.

 

Van kleins af was Langebaan nog altyd een van my gunsteling vakansie plekke, so toe ek en Charlen letterlik op die laaste minuut besluit om vir ʼn vinnige wegbreek daai kant toe te gaan het ek nie gehuiwer nie. En was dit nou vir jou pret! Koud, maar definitief pret.

 

SA op sy beste

 

Ek en Charlen ry gewoontlik uit vir etes of romantiese afsprake as die tyd dit toelaat (wat ek bedoel is dat hy ry die spoggerige karre en ek sit links voor soos dit ʼn goeie meisie betaam). So om uit te ry Langebaan toe was nie veel anders nie, maar dit was ons eerste wegbreek vir ʼn volle dag. Ja, julle het reg gehoor (gelees): dit was ʼn dag. En was dit nou vir jou ʼn mooi dag: winterson en reën op die oop pad, kameelperde en volstruise by die natuurreservate langs die pad…

 

Dis ons eie goed waarna ek doer in die verte verlang. Dinge wat my hart na smag. Suid Afrika op sy beste.

 

Langebaan mag nou dalk nie in die Griekse Eilande wees nie, maar die argitektuur van die vakansieoord herinner baie sterk aan Mykonos of Santorini. Die oord is letterlik langs én op die see en het verskillende aktiwiteite vir alle ouderdomme. Oud of jonk, klein of groot. Dit was nou wel goedkoper aangesien dit winter is, maar dit was definitief waarde vir geld.

 

Liefde vir die see

 

Iets wat ek en My Lief in gemeen het is ons liefde vir die see. My liefde groter as syne, al het hy in Lambertsbaai grootgeword. Charlen weet ook dat niks beur my op as om langs die see te stap nie; en dis presies wat ons gedoen het. Langs die see gaan stap. Al was dit bitter koud het die klank van die golwe en die reuk van die see dit uit kanselleer… tot op ʼn sekere punt.

 

Tot op die punt van ʼn rots waar Charlen gestaan het om ʼn foto te neem van hoe die golwe teen die rotse slaan. En toe slaan dit teen hom! Sopnat, papnat, watter woorde jy ookal wil gebruik. Punt is, hy was nat.

 

En net daar eindig ons stap langs die see.

 

LEES: Mykonos ʼn lekker winter-wegbreek

 

Voor ons vertrek het ons toe nog ʼn laaste stap gaan vat, dié keer tot op die hawe. Daar is nie veel woorde om dit te beskryf nie. Dis net mooi.

 

Die Weskus is mooi.
Langebaan is mooi.
Mykonos is mooi

En mooi was nog nooit lelik nie.

 

Definitief die eerste van vele Weskus-wegbreek vakansies.

COMMENTS