club Mykonos, mykonos,langebaan,afrikaanse paartjie

Mykonos ʼn lekker winter-wegbreek

Mens gaan gewoontlik see toe wanneer die son op sy beste skyn, maar ʼn onbeplande winter-wegbreek Weskus toe vra nie vir son nie. 

 

Dit was sommer nog vroeg in Junie toe ons twee kontak het en Lauren laat glip dat sy vir ʼn paar dae Kaap toe kom. Huis toe. Dit was hoe lank sedert sy by die huis was en die verlange na haar mense begin raak nou bietjies te veel. Dubai het nou wel alle fraai dinge en goeters, maar as jou familie en geliefdes nie daar is om dit met jou te deel nie, dan beteken dit alles ook maar niks. Grappig sê sy dat sy dit nogal sal like om vir ʼn dag Weskus se kant toe kan gaan en Charlen, wat reeds nie enige uitnodigings nodig het nie, gaan toe dadelik oor in aksie en kry ʼn plekkie by Club Mykonos in Langebaan.

 

Vrydag kom en die twee van ons spring in die bakkie en baan ons weg na… wel, na Langebaan.

 

Vis vir aandete

 

Langebaan is omtrent so 140km buite Kaapstad teen die Weskus op en het die twee van ons sommer gou klaar gespeel met die afstand. Nie met spoed nie, maar deur met die musiek saam te sing en ʼn duik te probeer maak in die massiewe pak biltong wat tussen die sitplekke staan. Dis nie lank nie en arriveer ons by Mykonos. Die wit huisies/woonstelle wat sterk aan Griekeland herinner, die rooi en geel wat soos seer tone pronk, en alles wat deur die koue, ysige Atlantiese Oseaan omring word.

 

Vinnig word alles in die oop-plan kamer gesit en is die missie na buite om die plek te verken. Jisou, dis koud! Lauren het ʼn serpie en mussie op, maar Charlen… iewers het hy die weerman se verslag gemis. Kort broekie?! Skaars buite en die koue vat hom sommer hard, maar hy druk deur en die twee van hulle beweeg tot onder by die see, tot op die rotse. Foto’s word geneem, video’s word gemaak, en die oomblikke word ingeneem en opgeneem soos tien. Die branders klots egalig teen die rotse en Charlen gaan staan daar waar dit breek. Wat hy gedink het sal net hy weet, want oomblikke later breek die water teen sy bene! Skoene en alles sopnat! Lauren kry nie klaar gelag nie en Charlen trap rond soos ʼn eend met ʼn gebreklike toon.

 

Terug in die kamer en alle klere in hul sakke aangetrek, sit die twee verliefdes aan om die sushi wat hulle gekoop het vir aandete te geniet. Dis dalk nie jou tradisionele Weskus maaltyd nie – tradisioneel soos in braaivleis en -snoek – maar dit moet doen. En dit het, want dit het goed gehou tot die volgende oggend.

 

Weskus reën

 

Die volgende oggend is daar ʼn reuk wat in die lug hang. ʼn Vars reuk. Skoon. Maak die vensters oop en die wêreld is nat! Ons Weskus Griekeland is deurdrenk in die water soos die reën deur die nag geval het. En dit hou steeds nie op nie. Maar dis mooi; pragtig. Daar was nie ʼn manier dat ons sou kla nie, want die Wes-Kaap het elke druppel water nodig.

 

Ons maak ons klaar en berei ontbyt voor alvorens ons vir die laaste keer nog ʼn bietjie gaan verken. Die hawe is doodstil, net die manne van See Redding wat hul swemtegnieke tussen die seiljagte oefen. Die see is bedrywig, maar dis nie onstuimig nie. Die son wil-wil uit die wolke se donker skaduwee beweeg, maar dis nie sy tyd nie. Die res van die oggend het blitsig verby gevlieg en skielik is dit weer tyd vir ons om die pad terug Kaap toe te vat.

 

Dit was ʼn kortstondige besoek aan Mykonos, maar dit was meer as genoeg vir ons om die batterye te herlaai. Nat weer of te not.

Charlen & Lauren op hul beste. Die een bly in Dubai en die ander hier in sonnige Suid-Afrika. Twee dinge wat hulle in gemeen het: albei is Afrikaans en albei reis vir werk! En so tussendeur alles maak hulle darem tyd om vir mekaar "ek is lief vir jou" te sê.