Japanners maak Kaap weer Hollands

Japanners maak Kaap weer Hollands

Dis amper soos die gesegde lui, “die Kaap is weer Hollands” (alles is in orde), maar hierdie keer was dit die Ooste wat alles kom regmaak het.

 

Die departement van Binnelandse sake het my ʼn jaar ouer verklaar – en hopelik ʼn jaar wyser ook! – en uit ondervinding voel ek mos dat ouderdom en wysheid nie met mekaar aan-aan speel nie. Wysheid is bekombaar en ouderdom haalbaar. In Engels klink dit effens meer fênsie: “Wisdom is accessible and age is attainable” – L. Fortuin (sommer my eie goed wat ek opmaak, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag).

 

Om my verjaarsdag te vier wou ek baie graag sushi op die spyskaart hê en Darryl het die perfekte restaurant in die V&A Waterfont opgespoor. Mensdom! Was dit nou vir jou ʼn soektog! Ons kon hierdie perfekte sushi restaurant nie opspoor nie. “Go straight, turn left and straight again”, was ons rigtingaanwysings deur een van die sentrum se sekuriteits beamptes. Na ʼn eindelose soektog besluit ons toe om eerder ander restaurante te probeer.

 

Tafelberg daar agter

 

Van die restaurante het sushi op die spyskaart, ander nie. Maar dis my birthday en my sin wil ek hê. My arme bokkie was ook seker al op Moedverlore se vlaktes, maar hy het sonder om te skroom na my gekarring geluister. Verjaarsdae kom mos net eenmaal elke 365 dae, dan nie?

 

En voila! Net daar spoor ons ʼn oulike Japanese restaurant op. Klein en intiem met ʼn pragtige sig van een van die sewe natuurwonders in die hele wye wêreld: Tafelberg. Toe is alles in orde! Die Kaap is nou Japanees. Ons het heerlike Japanese kos geniet en was die twee van ons in baie goeie geselskap… mekaar sʼn.

 

Darryl het vir hom so ʼn Thaise groenkerrie bestel. Maar voor ons hom snaaks aankyk, dit was heerlik! Ek het myself ʼn hele paar keer om sy bord bevind. Sy ma het hom baie goeie maniere geleer en het hy met liefde gedeel. “Sharing is caring”, sê die Engelse mos. Ek weer het myself in seekos verloor. Enige ding wat uit die see kom, is my swak. En dit was soos ʼn gesig uit die hemele om te sien hoe die nou-oog nasie dit voorberei. Die kalamari, die garnale en salm was alles netjies op my bord gesit en versier. Dit het amper te goed gelyk om te eet!

darryl johannes,liesel fortuin,afrikaanse paartjie,darryl en liesel

Foto: Darryl & Liesel

 

Magies vol, ogies toe

 

Toe moes ons met daai ou wat in een van Leon Schuster se komedies van Rainbow Yoghurt gepraat het saamstem. Hy sê mos daai nou-bekende lyntjie: “Smaak my ʼn engel het op my tong gepiepie!” Nou dis presies wat die haartjies op my tong ervaar het. Ek herhaal, dit was hemels. Veral Bokkie se kerrietjie!

 

Toe ons magies eers vol was, toe gaan ons ogies oop. Ons het ʼn rustige stappie deur die sentrum gevat en die restaurant waarvoor ons oorspronklik gekom het, gesien. Toe voel dit die aand kan van voor af begin! Maar nou ja, die Japanners het ons goed gevoed. Ons intelligensie vlakke het ook onmiddellik gestyg, want ons het nou ʼn band met ons Japanese broers en susters deur middel van voedsel gesluit.

 

En daardie gesegde is ook steeds waar: Die pad na ʼn man se hart is deur sy maag, want na ons lekker aandjie saam was Darryl ook sommer meer lief vir my. Dit is steeds sigbaar in sy oë.

 

Geskryf deur: Liesel Fortuin

darryl johannes,liesel fortuin,afrikaanse paartjie,darryl en liesel

Darryl se Thaise groenkerrie. Foto: Darryl & Liesel

COMMENTS