Iewers aan die voet van ʼn berg…

Iewers aan die voet van ʼn berg…

Franschhoek is bekend vir baie dinge – wynplase, die pas – maar iewers aan die voet van een van die berge is daar ʼn versteekte stukkie hemel op aarde. En mens sal dit nie sommer sien nie, maar met genoeg gesoek op die Internet sal jy dit gou-gou kry.

 

Met ons verhouding wat die 12 maande kerf bereik het, het ons besluit dat mens eenvoudig nie kan anders as om dit ʼn spesiale geleentheid te maak nie. Lauren het ingevlieg van Dubai af, Charlen het die plekkie bespreek en daar gaan hulle op 12 November, op die einste dag, na die Franschhoek Country Cottages. Franschhoek is darem gelukkig ʼn klipgooi van die Kaap af, so dit was nie lank nie en ons is by ons bestemming. Het wel amper verdwaal, maar ons het dit gekry.

 

En toe is dit al die pad nie so moeilik om te kry nie, ons het net té vroeg besluit dat ons ry verkeerd. Mens kom Franschhoek binne en ry deur die hoofstraat. Aan die einde daarvan, by die T-aansluiting, draai jy regs in Exelsior Road en ry aaneen aaneen totdat die pad doodloop. Die Country Cottages sal dan aan jou linkerkant wees.

afrikaanse paartjie, #afrikaansepaartjie,afrikaansepaartjie,wegbreek,vakansie,franschhoek,buitelug,outdoors,nature,natuur

 

Wat ʼn gesig!

 

Daar gekom en die Mercedes-AMG C43 mooi geparkeer, spring ons uit en betree ons “huisie”. Julle, dit is nou vir jou mooi! Alles is so innemend, outyds. Die geur van plaas vul die hele eenheid en is dit net julle en die natuur. Die plaashuis, omring deur bome en berge, mis wat oor die berge kruip, en die klank van voëls wat in die bome karjakker.

 

Jy raak so weggevoer deur die wonder wat ver bo alles versteek is. Franschhoek lewe wel ʼn paar kilometer onder ons, maar die eintlike wonder van die dorp is hoër op. Ons stap deur die huisie na die agterdeur toe. Goeie genugtig, nóg! Die deur maak oop en onthul ʼn stoep wat uitkyk oor ʼn watergat waar sebras, springbokkies, en blouwildebeeste kan kom teug. Wilde diere wat tot hier by jou kom. Natuurlik word jy gemaan en gewaarsku om nie verby die heining te gaan nie, so ons bly maar ook hier waar dit veilig is.

 

Video: Só oorleef jy die afstand

 

Twee eenhede weg van ons af is ook mense en hulle neem ook kiekies van hierdie gesig. Niemand sê ʼn woord nie, niemand wil die diere steur nie. Hulle is dan hier by jou, letterlik amper in jou spasie, en al wat jy kan doen is om die oomblik te geniet en alles in te neem.

 

Mens kan hier braai en binne is ʼn kaggel, maar op so ʼn laat-lente aand wil jy niks anders doen as om aan biltong, droë wors en skyfies te peusel met ʼn lekker soet wit wyn om alles mee af te sluk nie.

afrikaanse paartjie, #afrikaansepaartjie,afrikaansepaartjie,wegbreek,vakansie,franschhoek,buitelug,outdoors,nature,natuur

 

Is dit… chocolate?!

 

Baie hotelle en dié’s meer gee gewoonlik vir hul gaste ʼn stukkie sjokolade wat hulle op die bed los. Dit nou net om te sê: “Welkom hier by ons en ons hoop julle sal die kuier geniet.” Iets in daai lyne. Maar die nonsens was, in ons geval, dat daar vars sjokolade op ons beddegoed was. Nee, nie verpakte chocolate nie; gesmelte chocolate aan die bo-punt van die duvet en teen een van die kussings.

 

Ag nee man! Net wat dit lyk Franschhoek Country Cottages oortref al ons verwagtinge gebeur dit. En dit laat ons toe wonder of ons vars beddegoed gekry het, óf was die beddegoed van die vorige gaste net netjies plat getrek en so vir ons gelos? Ons het selfs die moontlikheid oorweeg dat dalk, net dalk, het die skoonmakers sjokolade geëet en het ʼn stukkie geval, maar selfs dan moes hulle mos paraad wees vir sulke glipsies en dadelik vars beddegoed kry, dan nie?

 

Dit het so ʼn groot demper op die ervaring geplaas, want mens kan net nie jou lê met dít op jou brein kry nie – al het jy die vuil gedeelte by die voete gesit. En jy’s heelnag wakker. Gelukkig kon ons vroeg op wees, weer buite sit met die sebras wat kom môre sê, en ons kuier in mooie Franschhoek met koffie by ʼn restaurantjie afsluit.

afrikaanse paartjie, #afrikaansepaartjie,afrikaansepaartjie,wegbreek,vakansie,franschhoek,buitelug,outdoors,nature,natuur

COMMENTS