Gevind! Die geluk van die Iere

Gevind! Die geluk van die Iere

Ek is nou al vir meer as ʼn jaar ʼn lugwaardin en ek kan dit nog steeds vandag sê dat Dublin, Ierland my gunsteling bestemming is. Ek is mal oor die groenigheid en die tydig en ontydige reën (nes die Kaap). So toe ek die kans kry om Ierland weer te besoek het ek nie geskroom om te gaan nie. Dis nou wel vir werk dat ek die land besoek, maar wat baie Suid-Afrikaners nie weet nie is dat ons nie ʼn visa nodig het om hierheen te kom nie. Definitef ʼn plus en een ding minder om jou oor te bekommer.

 

St. Stephen’s Green Park

 

Een van die mooiste parke wat ek nog ooit besoek het is St. Stephen’s Green Park. So rustig, gesinsvriendelik, baie lekker vir ontspan en die eende dop te hou of hulle te voer. Oral is oulike bankies waarop mens kan sit en lees of net sit en besin oor alles terwyl jy oor die kalm dam staar. Kinders baljaar op die groen grasperke en daar is ʼn mooi bruggie waarop jy foto’s kan neem. Die parkie is in die middel van Dublin, langs Graftonstraat – ook genoem shopping street. Dis my tipe plek en ek wil dit nog met My Liefie kom besoek. Ek weet hy sal die rustigheid van die park verskriklik baie geniet!

Die (baie!) groot biblioteek

 

Volgende op die lys van plekke om te besoek was Trinity College Library. Wow wow wow! Boeke, boeke en nóg boeke!

 

So Trinity College Library is basies ‘n groot biblioteek met ou boeke en standbeelde van ou digters en die plek self lyk soos iets uit ʼn storie boek . Boekrakke wat tot teen die plafon strek en lere wat oral staan om by die bo-punte uit te kom. Ek kon nou wel nie aan die leesmateriaal vat nie, maar die reuk van ou boeke roer my hartsnare. Ja mense… ek is ʼn boekwurm.

 

ʼn Interessantheid is die Books of Kells – wat handel oor ‘n gedeelte van Ieland se geskiedenis – waarvan die bladsye vergroot is sodat mense dit duideliker kan lees. Wat wel vir my uitgestaan het omtrent dit was wat op een bladsy geskryf is: “The Scribe”. Ek gaan nie verder uitbrei nie, want die foto sal die praatwerk doen…

Dublin Kasteel

 

Laaste maar definitief nie die minste nie was die Dublin Kasteel. Ek het nou wel nie ingegaan nie, want mens moet betaal om in te gaan en daarvoor het jy Euro’s nodig. ʼn Hele paar Euro. Plus ek moes eet ook! Maar wat ek wel van die kasteel gesien het is iets om oor huis toe te skryf. Dis so mooi! Soos iets uit ou liefdesverhale. Die gebou word goed versorg en skoongehou en daar is ʼn toring wat my aan die sprokie van Rapunzel laat dink het. Okay, die toring is nou nie só hoog nie, maar nog steeds.

 

Ek wil weer Ierland toe gaan. En weer en weer en weer! Dis ʼn besonderse plek met soveel karakter.

 

O ja, voor ek vergeet. Daar is letterlik ‘n kroeg om elke hoek en draai, maar ek het nou nie daar ingegaan nie want dis nie my tipe ding nie. Dalk sal ek dit doen wanneer ek en My Liefie ons #roadtrip deur die land kom doen.

 

Hy moet darem die geluk van die Iere kom ervaar.

COMMENTS