Dubai se hitte kan ons nie keer!

Dubai se hitte kan ons nie keer!

As julle gedink het dat mense oorreageer wanneer daar van Dubai se hitte gepraat word en dat mens niks kan doen nie… wel, hulle jok nie. Die hitte is ʼn vark!

 

Verskoon tog die power poging om ʼn vark-grap te maak, maar daar is net soveel maniere hoe mens die hitte kan beskryf. Gee ʼn tree buite en jy los die Wes-Kaap se droogte op. Selfs met sonbrille op voel dit of die son deur dit jou oë brand. Dis ʼn ander tipe hitte hierdie. Daar is plekke soos Vredendal en Wupperthal en Springbok waar jy ook jou Moses sal teëkom, maar hier in Dubai loop die duiwel in die strate en siele werf. Dis hoe warm dit is.

 

Tog, jy kan nie by die huis sit en en dan wil sê “ek was in Dubai” nie, want dit is nie Dubai nie. Dubai is nie in ʼn huis met air con nie. Dubai is daar buite. En dis hoekom toe Charlen vir Lauren in Dubai gaan kuier, het hulle tyd buite spandeer. Al was hy ʼn paar keer bitter naby aan omkap!

 

Woestyn toe

 

Daar is baie trekpleisters en goed om te doen in Dubai, maar ʼn besoek aan hierdie sal net nie reg wees as mens nie ʼn draai in die woestyn gemaak het nie. Daaglik word daar Desert Safaris in en uit die woestyn gedoen en kan mens hierdie sanderige oase op ʼn heel ander manier verken. Mens kan jou kaartjie op verskillende maniere bekom, maar dit wat by die pakket ingesluit word verskil.

 

Die kaartjies wat ons geneem het sluit in dat ons iewers opgetel word en dan per bus woestyn toe geneem word. Dis omtrent 90 minute se ry – as mens nou verkeer in berekening bring – maar saans, met die terugkom, is die tyd wat dit neem om weer in die stad te kom bykans die helfte korter! Gelukkig is die rit nie onaangenaam nie en kan jy sommer ʼn uiltjie knip vir daardie paar minute wat jy sit en niks doen.

 

Video: Dubai Desert Safari

 

Wanneer mens by die woestyn kom, spring jy uit die bus uit oor in ʼn 4×4. Die manne het omtrent pret soos hulle jou oor die duine vervoer en kan jy sommer sien hulle is ou gewoont aan hierdie klas van ding. Dis oor hoë sand mure, verby ander 4x4s wat ook in die duine baljaar, ʼn geskud soos jy soos ʼn ou vloerlap van kant tot kant gegooi word! Maar dis lekker! Dis vet pret en kan jy nie help om jou tande te wys nie.

Dans dans dans

 

By die terrein waar alles gebeur besef jy eintlik hoe naby jy aan die nasionale pad is; naby aan die plek waar jy nou net van die bus afgeklim het. Dis skaars 1.5km, maar die ouens het jou nou regtig ʼn ervaring gegee. En is hier nou vir jou mense! Toeriste van oral en almal praat hul eie taal en almal wil dieselfde goed doen. Afhangend van die kaartjie wat jy gekoop het kan jy viewielmotorfiets ry, kameel ry, of sandplank doen. Ons kaartjie het ons net toegelaat om die laaste twee te doen.

 

Die kameel rit is bitter vinnig en als is verby. Jy klim skaars op en ʼn minuut later sak ou hobbelrug vir jou om af te klim. Dis mos skoon twak, maar ons het maar besluit om nie te kla en dan te sukkel om die kommunikasiekanaal te oorbrug nie. Ons hou maar by die ervaring en dat ons dit wel gedoen het. Volgende is die sandplank. Dis amper soos om te surf, maar met die verskil dat jy dit teen ʼn duin af doen. Nóg ʼn flop, want die bande waarmee jy jou voete vasmaak is stukkend en dit vou nie styf genoeg om jou voete nie. Charlen het hierdie avontuur ʼn kans gegee, maar dit was méér van ʼn verleentheid as enigiets anders.

 

Na afloop van dit alles beweeg ons na die onthaal area toe waar ons aansit vir ete en drie skoue. Die eerste twee was deur ʼn man behartig wat dans en en poi (hy speel met vuur), en die derde deur ʼn vrou wat belly dance. Ons oë het omtrent groot geraak vir dit wat ons gesien het, maar dit was wonderlik om so naby aan al hierdie goed te wees.

 

Ons het later vergeet dat ons warm, sweterig en vol sand is, want die skou het nogal opgemaak vir vroeër se teleurstellings.

 

COMMENTS