Afrikaanse Paartjie,trots afrikaans,afrikaans is groot,liefde is afrikaans,

Die groot dertig het sy trane

Ek is darem ʼn gelukkige bliksem. En my meisie en familie het seker gemaak dat ek dit weet. Hier aan die begin van Augustus 2018 het ek ʼn groot verjaarsdag gevier, maar soos oudergewoonte het die vieringe weer vir bykans ʼn week aangehou. Eers begin dit met vriende en familie wat die aand voor my groot dag oorkom vir potjiekos, dan vieringe op die dag, en die naweek ʼn vet road trip deur die Klein Karoo.

 

Dis een van daardie verjaarsdae waar jy meer verstom staan vir dit wat mense bereid is om vir jou te doen en hoe die omgee bykans geen einde het nie. Ek het lekker verjaar, maar dit was ʼn bitter-soet verjaarsdag wat nie vir almal maklik was nie…

 

As die dood kom kuier…

 

ʼn Week voor my verjaarsdag is Lauren in die Kaap met werk en dis ook net so dat haar Oupa sy sewentigste verjaarsdag op die tweede vier. Ses dae voor my groot 3-0. Daai Donderdag maak ek gereed om na haar toe te gaan sodat ons saam haar Oupa kan gelukwens, maar skaars ry ek van die huis af en Lauren bel…

 

“Charlen! My Oupa is dood!”

 

Hy het seker so 10min voor daardie oproep sy laaste asem uitgeblaas. Op sy 70ste verjaarsdag. Hel, dit was nie lekker nie. Om afskeid te neem van iemand wat so baie vir jou beteken het en letterlik seker gemaak het dat jy gemaklik lewe. Lauren se hart was in stukke, maar, het sy vir my gesê, sy het vrede in haar hart want net daardie oggend, op sy verjaarsdag, volgens haar Ouma, het oom Pinnie gebid dat die Here sy pyn moet verlig. Oom Pinnie was siek, maar hy het nooit aan sy familie te kenne gegee presies hoeveel pyn hy het nie.

 

Ek weet die dood maak seer, daarom was al wat ek kon doen om vir Lauren by te staan en haar te laat weet dat ek daar is vir haar. Vir haar en haar familie. Dit was ʼn moeilike week vir haar, maar gelukkig kon sy verlof vir ʼn paar dae kry om daar vir haar familie te wees. Saam met hulle te wees.

My groot dag!

 

Dit was nie ʼn maklike daaropvolgende paar dae nie, maar voor ek my kom kry was my verjaarsdag hier. Of liewer, dit was ʼn aand weg. Vriende en familie het kom kuier, die vure het gebrand, en die geselskap was weer uit die boonste rakke. Daai middag, toe ek vir Lauren gaan kry, vra sy my om eers by ʼn plek bo-kant Tygervallei te stop; sy moet iets optel. Nou, ek weet mos om nie nog baie vrae te vra nie, maar toe ek sien het sy vir my ʼn koek bestel. ʼn Koek! Vir my!

 

Maar dis nie al nie. Sy het twee helium ballonne gekry; die syfers drie en nul! Vir my! Want, soos sy met ʼn vet klapsoen gesê het, sy wil hê dat ek hierdie verjaarsdag vreeslik baie moet geniet. Die seer oor haar Oupa is nog baie vlak, ek kon dit sien, maar sy het vir my geglimlag sodat ek nie moet sien presies hoe baie sy hom mis nie. But I knew…

 

LEES: Tog deur die Klein Karoo: Kango Grotte

 

Daardie aand het Lauren en my gesin saam gespan om die aand absoluut fantasties te maak. Hulle het met die gaste gesels, die kos help voorberei, ingespring waar hulp nodig was, net sodat ek ʼn goeie aand moes hê. Ek was – en is! – baie bevoorreg om sulke mense in my lewe te hê wat my oopmond glimlag bo alles plaas.

 

Die agste Augustus vier ons my verjaarsdag stil-stil, sonder enige fancy goedjies. Net Lauren en my mense saam met my. Maar die volgende dag was dit oom Pinnie se begrafnis en was dit belangrik dat My Lientjie van haar Oupa afskeid neem. My hart het vir haar gebloei, maar sy was sterk en kon sy darem in die kerk ʼn liedjie aan haar Oupa opdra. Nie maklik nie, maar sy het deur die trane gewys dat sy, soos altyd, ander bo haarself plaas.

 

Ek is vrek lief Lauren. En sy sal seker nooit weet hoe baie nie – of dalk doen sy…

Charlen is 'n motorjoernalis en bevind hom elke week agter die stuur van 'n ander motor. Nes Lauren reis hy ook baie, maar sy avonture neem hom regoor Suid-Afrika eerder as die wêreld. Gelukkig gebeur dit soms dat Lauren hierdie fêncy rygoed saam met hom kan ervaar.