charlen raymond,mclaren 570s Spider

Bliksem, daai McLaren is iets anders!

Die McLaren 570s Spider het ʼn onwrikbare indruk op my gelaat. Nie omdat dit vinnig is en die ontwerp van ʼn slaapkamer plakkaat het nie, maar omdat die pakket in die geheel saam kom om een van die rouste, mees gehardste karre in Suid-Afrika te vorm. En nog meer, al is hierdie kar die “intree-vlak” McLaren wat mens tans in SA kan koop, bied dit verrigting wat supermotors goed opdraende kan gee.

 

Die 570s, deel van McLaren se Sport Series, is die opvolger van die 650s, wat, op sy beurt, die opvolger van die legendariese MP4-12C was. So dis dan net gepas dat beide die hardedak 570s én die Spider verrigting bied wat by die ontwerp pas.


Borrel en bruis

 

Met twee passasiers aanboord en die petroltenk vol weeg die kar ʼn skamele 1 500kg, wat beteken dat die 0-100km/h lopie in slegs 3.2 sekondes geskied. En ses sekondes later suiker jy verby 200km/h! Dis belaglik hoe maklik dit is om hierdie snelhede te bereik, maar daar was geen manier dat McLaren se bewering dat die motor ʼn topspoed van 328km/h het op die proef gestel sou word nie. Net… nee. Die kar is maar 1.2 meter hoog, maar dis die grondvryhoogte van 93mm wat jou senuwees aan vlarde sal hê. Terwyl mens stadig jou weg oor spoedwalle probeer vind, is dit maklik om verkeer op te hou en dan padverbruikers te kry wat soms onrustig kan raak vir jou slakkepas. Maar genadiglik was die Waterfront se inwoners heel verstaanbaar en inskiklik om ʼn paar ekstra sekondes te wag.

 

Alhoewel McLaren se 570s Spider gemaklik in die stad is – of so gemaklik soos ʼn behoorlike sportskar kan wees – sal dit nie in die betonwoud tot sy reg kom nie. Deur stadig aan te trot sal meer belonend vir toeskouers wees, maar om ʼn renbaan sal die eienaar/bestuurder dit behoorlik geniet. En as jy nie by ʼn resiesbaan kan uitkom nie, sal stil agterpaaie of ʼn bergpas net so goed wees.

 

LEES: McLaren 570s Spider rek sy bene

 

Die 570s Spider is nie net ʼn kar nie, dis ʼn ondervinding. Dis ʼn simfonie van elemente wat saam kom vir ʼn oomblik se plesier wat ver beter is as dié wat die beste tuimeltrein in die Kaap jou kan bied. Dalk selfs Johannesburg, ook! Dis ʼn kar wat die siel roer met die op-en-wakker enjin wat sy klankvolle geluide by die uitlaatpype uit forseer. Die McLaren 570s Spider is nie net ʼn kar wat vir vinnige pret gebou is nie. Dis ontwerp vir byna ongeëwenaarde rygenot onderwyl dit die bestuurder na Motorhemel neem.

 

My vinnige hartklop vertel nie die volle storie nie en die ervaring gaan nog vir ʼn tydjie in my bruis en borrel.

 

Vir die volle storie oor die McLaren 570s Spider, klik hier.

mclaren 570s Spider
Foto’s: Warren Wilson

Charlen is 'n motorjoernalis en bevind hom elke week agter die stuur van 'n ander motor. Nes Lauren reis hy ook baie, maar sy avonture neem hom regoor Suid-Afrika eerder as die wêreld. Gelukkig gebeur dit soms dat Lauren hierdie fêncy rygoed saam met hom kan ervaar.