Afdak-aksie in ʼn afdak BMW

Afdak-aksie in ʼn afdak BMW

Die afdak BMW M240i, of M240i convertible as ons nou sy doopnaam gebruik, is ʼn besonderse kar. Dit kondig sy teenwoordigheid aan deur net stil te staan. In daardie grys verf staan dit uit en trek dit aandag om elke hoek en draai. Die wielboë vou uit hul nate en pas die 18-duim bande mooi volrond daarin. Dit herinner sterk aan die M240i M Performance wat ek laas jaar onder hande geneem het, maar dit moet klaarkom sonder die spesiale afwerking.

 

Hier is nou vir jou ʼn lekker kar wat die koppe laat draai. Nie oor wat nie, maar omdat jy in oortrokke weer rustig teen die kus kan ry sonder om jou oor ʼn warm son te bekommer. Dis ʼn tipe personifikasie van moeitelose afdak rygenot.

 

Lekker balans

 

Dit moet sekerlik een van die lekkerste motors wees wat BMW tans bied, maar daar is tekortkominge. Passasiers agter, byvoorbeeld, se beenruimte is erg beperk en maak dit lang ritte bykans ondraaglik. Al word daar elke twee ure/200km gestop, bly die ongemak daar. Teen 430L is die kattebak lekker groot, maar die ruimte waarin die lapdak wegvou neem heelwat van daardie ruimte op. Mens kan die motor met die druk van ʼn knoppie aanskakel, maar sleutellose toegang tot die kajuit is opsioneel beskikbaar.

 

LEES: Afdak BMW die regte medisyne

 

Afgesien hiervan bly die afdak M240i ʼn uiters lekker kar… vir twee. En ongeag die bestuurstyl wat jou oorval, die kar pas daarby aan. In die stad is dit nie soos ʼn vis uit die water nie, en op die oop pad, waar jy gou-gou die 4.7 sekonde 0-100km/h-lopie kan beproef, is dit nóg beter. Vir die prys sou mens dalk ʼn bietjie meer elektronika verwag, maar hierdie BMW bied ongetwyfeld ʼn baie lekker rit. Die M240i word voort gestu deur BMW se bekende 3.0-liter ses-silinder enjin. Wat ʼn juweel! Og, die gemak waarteen die kar beweeg wanneer al daardie perde op ʼn gallop is! Soos ʼn stoomtrein wat se kool in oormaat is. 250kW en 500Nm word na die agterwiele gepomp en omdat die dryfas agter en die enjin voor is, is daar ʼn lekker balans tot die kar. En die agt-spoed outomatiese ratkas is gladder as seep, ongeag die ritmodus.

 

Somer is amper hier – okay, nog ʼn paar maande – maar tot dan moet die winterson tot die uiterste benut word. Dit beteken dat jy sonder ʼn hoed kan rondloop en nie té veel oor sonsteek bekommerd hoef te wees nie. Of dat jy kan bepaal hoe warm of koud jy wil kry deur die hoeveelheid kledingstukke aan jou lyf. Of nog beter, jy kan besluit of jy jou kar se dak op of af wil hê. ʼn Kar soos die BMW M240i afslaandak.

 

Vir die volle verslag oor die afdak BMW M240i, klik hier.

COMMENTS